Die Reëls verander
Die fliek Miracle, is ’n sportfliek waarin die Winter Olimpiese spele van 1980 in Lake Placid New York uitgebeeld word. Die bekende yshokkie wedstryd tussen die Soviet Unie en Amerika te midde van ’n tydperk van hewige konflik en die bekende afrigter Herb Brooks van Amerika wat ’n klomp onprofessionele spelers afgerig het om die Olimpiese spele te wen, was alles deel van die film.
Die meeste van die spelers onder Herb Brooks se leiding het gesê dat hy nie noodwendig die reëls kom verander het nie, maar omdat hy hulle anders benader het, het dit tot gevolg gehad dat hulle self die reëls anders benader het.
Reëls het altyd vir groot debat in die antieke wêreld gesorg. Die wet en gebooie het selfs ook sekere mense uitgesluit en ander bevoordeel. Jesus het baie na die wet verwys in sy woorde aan die massas en Hy het ’n ander perspektief oor reëls gehad.
Markus 12:29-31 NLV. Jesus het hom geantwoord: “Die belangrikste gebod is die volgende: ‘Luister, o Israel, die Here ons God is die énigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart, met jou ganse siel, met jou totale verstand en met al jou krag.’ Die tweede gebod is net so belangrik: ‘Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.’ Hierdie twee vorm saam die allerbelangrikste opdrag.”
Jesus het juis vir die mense van daardie tyd gesê dat hy nie gekom het om die wet te vernietig nie, maar dat Hy gestuur is om die spelreëls anders te benader. Jesus het vir die mense kom sê dat die nuwe benadering tot reëls ander moet insluit en in liefde moet ontvang. Ons kan vandag in die kerk ook in reëls en debatte vasgevang raak. Ons moet onthou dat gesonde reëls is dié wat ander in liefde benader.
Gebed:
Here, dankie dat U die spel ter wille van ons anders kom benader het. Dankie dat ons nie ongesonde reëls hoef te gebruik om ander uit te sluit nie, maar dat liefde alles wat ons doen, oorwin. Dankie dat U ’n nuwe en gesonder leefwyse vir ons in hierdie tyd kom oopbreek. Here help ons ook om mense anders te benader.
Amen.