Gedagte vir die dag | Maandag 22 Augustus 2022

Gal 5:1. Christus het ons vrygemaak om werklik vry te kan wees. Staan dan vas in hierdie Vryheid en moet julle nie weer onder die slawejuk laat indwing nie.

Ons lewe gelukkig nie meer vandag in die realiteit van slawerny soos in die tyd van die Bybel en selfs vroeë Suid-Afrikaanse geskiedenis nie, maar die effek daarvan op ons godsdiens en geloof is nog net so aktueel as voorheen. Waarvan Paulus praat was Ou Testamentiese godsdienstige gebruike waarvan die fokus op God geval het, maar wat haat en vyandskap tussen mense laat onstaan het. Dieselfde liefde wat ’n mens godsdienstig uitleef moet ook teenoor jou naaste uitgeleef word. Daarsonder beteken dit niks. Lees weer 1 Korintiërs 13 waar Paulus dit klokhelder stel. Is gelowiges werklik so vry as wat hulle sterk godsdienstigheid wil voorgee? Dit is ’n uitdaging wat voor ons almal gelê word.

Gebed

Here, deesdae word ’n mens in die kerk oorweldig deur stemme wat verskil en baklei oor wat reg en verkeerd is. En godsdiens word gebruik om antwoorde te motiveer. Maar wat dan skynbaar dan by albei standpunte gebeur is dat dit die eenheid tussen mense breek en tot ’n toestand van wantroue, frustrasie en suspisie lei. Here, ek wil reg lewe. Help my vandag om die vryheid te kan beleef waarvan Paulus in vandag se teksgedeeltes met my praat. Help my met die wysheid en insig wat dieper strek as die godsdienstige gebruike waarmee ek grootgeword het. Help my die genade vind van ’n liefde vir my naaste wat nie minder is as my liefde vir U nie.

AMEN.