Gedagte vir die dag | Maandag 21 Februarie 2022

Johannes 4:17-18.  Die vrou het dadelik reageer: “Ek het nie ’n man nie.” Jesus beaam dit toe: “Jy het tereg gesê: ‘Ek het nie ’n man nie.’ 18Want jy het reeds vyf mans gehad en die een wat jy nou het, is eintlik nie jou man nie. Dit wat jy gesê het, is die waarheid.”

Wanneer Jesus vir die Samaritaanse vrou by die put water vra, skend Hy omtrent al die Joodse gebruike van die tyd. Die Jode het die Samaritane as ver benede hulle beskou.  Die vrou moes groot geskrik het, toe ‘n Joodse man skielik met haar begin praat het.  Toe Hy haar vertel dat Hy die langverwagte Messias is en vir haar van Sy lewende water aanbied, los sy haar waterkruik  net daar by die put en gaan vertel die mense van haar dorpie van Jesus.

Indien jou verlede nie onbesproke is nie, kan jy soms ongemaklik en gespanne daarvoor voel. Jesus laat egter nie jou verlede teen jou tel nie. Hy is altyd bereid om jou te vergewe.  Hy sal ook jou sondes van die verlede vergewe en vir jou die water van die lewe aanbied

Gebed

Hemelse Here, ek loof U dat U, u lewende water ook vir my aanbied en my sondes van die verlede vergewe. Amen

(Geneem uit: Jy is Myne van Nina Smit)