Lukas 12:15. Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.
Het jy vandag genoeg om van te lewe? In die lig van mense wat hulle werk verloor en brandstof- en kospryse wat aanhou styg is soveel mense besorg dat hulle inkomstes nie vir lank met hul uitgawes gaan tred hou nie. Alhoewel die ekonomie sukkel is daar interesant genoeg nou meer mense wat weekliks ’n lotto of powerball-kaartjie koop. Dink net hoe ’n paar miljoen rand jou lewe vandag kan verander! Maar wanneer is genoeg, genoeg? Onvergenoegdheid het die vermoë om in elke sel van ons liggaam te gaan sit en ons hele bestaan oor te neem. Die perspektief wat dan in ons begin leef is die van skaarsheid. Die Here gee egter deur sy Gees aan ons ’n perspektief van oorvloed en ’n besef van dankbaarheid. Moet jouself dus nie voortdurend finansieel aan ander meet, of jouself onder die indruk bring dat jy nie deur die Here geseën is nie. In 1 Kor 9:8 sê Paulus: “God kan vir julle baie goeie dinge gee, sodat julle meer as genoeg sal hê. En dan sal julle altyd genoeg hê van alles wat julle nodig het. Maar dan sal julle ook meer as genoeg hê om te gee vir mense wat nie genoeg het nie.”
Gebed
Here, bewaar ons almal vandag daarvan dat onvergenoegdheid nie in ons oorneem, omdat daar dinge is wat ons kort of wat ander mense nodig het, nie. Maak ons deur u Gees daagliks opnuut bewus van hoe U ons elke dag seën, sodat ons vanuit dié oorvloedigheid van dankbaarheid ons omstandighede in ‘n nuwe perspektief kan beskou. Dankie vir soveel goeie dinge in my lewe. Ook vir dié wete dat alhoewel ek onder finansiële druk is U ook in my ’n vrygewigheid kan losmaak.