Gedagte vir die dag | Maandag 2 Oktober 2023

 

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders gelees het.

 Lees Genesis 6-8: Die verhaal van Noag

 Teks: Genesis 8:1

1Toe het God gedink aan Noag en aan al die wilde diere en die mak diere wat by hom in die ark was, en God het ‘n wind oor die aarde laat waai, en die waters het teruggetrek

 GEDAGTE

Die verhaal van Noag en die ark is een van die bekendste Bybelverhale. God het Noag, wat ‘n regverdige man was, gekies om ‘n massiewe ark te bou om verteenwoordigers van al die diere van die wêreld te huisves. Dit was omdat God besluit het om die hele wêreld te oorstroom om die goddeloosheid van die mensdom te vernietig. Noag het God se bevel gehoorsaam en die ark gebou, sodat sy gesin en die diere die wêreldwye vloed kon oorleef.

Genesis 6 tot 9 vertel ‘n verhaal wat ons almal van kleins af ken. Van die groot vloed en Noag se ark. Maar eintlik is dit ’n verhaal van ’n einde en van ’n nuwe begin. Dit vertel hoe een van die héél grootste rampe ooit alles kom verander het. Maar eintlik kom die verhaal van baie verder as dit af. Jy moet eintlik die storie vier hoofstukke terug gaan haal. Daarin vertel die Bybel ons eers hoe God die mens as die kroon van sy skepping gemaak het, en aan hom die ereplek gegee het. Maar daarna gaan dinge spoedig net van sleg na slegter. Eers draai die mens sy rug op God – die sondeval; en net een hoofstuk later lees ons al van die eerste moord; en so het die mens net al verder weggedwaal van God af. Tot ons in Genesis 6:6 lees dat dit die Here berou het dat Hy hoegenaamd begin het met mense. Hy het besluit om weer van voor af te begin.

Ons het sekerlik al almal tweede kanse by die Here ontvang. ’n Kans op ʼn nuwe begin. Keer op keer het die Here ons al vergewe – die bladsy omgeblaai en weer die pen vir ons gegee om nuut te begin skryf. Dank die Here vandag vir nuwe kanse in jou lewe. Dat Hy jou en my nie van die aarde af vee nie, maar nog ʼn kans gee. Gebruik dan die nuwe kans om ʼn verskil te maak.

GEBED

Ons glo in die God van water

wat ‘n verbond met mense en diere gesluit het

ons glo in sy geliefde Seun

oor wie Hy Hom verheug

ons glo in die Heilige Gees

wat soos ‘n duif op Jesus neergedaal het

uit ‘n oopgeskeurde hemel

waar daar nog somtyds ‘n reënboog sit.

Amen