Gedagte vir die dag | Maandag 18 April 2022

Handelinge 1:1-3: “My eerste boek, Theophilus, het ek geskrywe oor alles wat Jesus gedoen en geleer het, van die begin af 2tot op die dag van sy hemelvaart. Voordat Hy in die hemel opgeneem is, het Hy deur die Heilige Gees bevele gegee aan die manne wat Hy as apostels uitgekies het. 3Ná sy dood het Hy aan hulle met baie onbetwisbare bewyse ook getoon dat Hy lewe. In die loop van veertig dae het Hy by verskeie geleenthede aan hulle verskyn en met hulle oor die dinge van die koninkryk van God gepraat.”

Die dramatiese gebeure van Goeie Vrydag en Opstandingsondag is agter die rug. Jesus het opgestaan en verbasend genoeg, net weer voortgegaan met sy Godgegewe taak en roeping op aarde. In hierdie tydperk na sy opstanding sien ons hoe Hy baie pertinent die stokkie oorgee aan mense wie Hy vertrou het om die Jesus-proses in hierdie wêreld verder uit te rol. Lukas sê in hierdie gedeelte in Handelinge dat Hy dadelik, toe Hy aan hulle bewys het dat Hy lewe, begin het om aan hulle, sy apostels en gestuurdes bevele te gee. En waaroor sou hierdie bevele gaan? Nie net  lesse oor lewenswyse en leerinhoud nie, maar oor hulle taak as verspreiders van die evangelieboodskap wat  Hy kom gestalte gee het toe Hy op aarde was.

Lukas meld ook dat Hy in die verloop van 40 dae na sy opstanding intensief besig was om sy dissipels voor te berei vir hierdie taak. Hy het met hulle gepraat oor die dinge van die koninkryk van God. Toe Jesus met sy bediening begin het, was Sy eerste boodskap by die see van Galilea ook dit: die koninkryk het naby gekom! En nou, enkele dae voor sy hemelvaart, bevestig Hy dit weer, en lei hulle op om werklik die implikasie van die werk van die koninkryk te verstaan.

Wat is ons reaksie op die opstanding van Jesus Christus? Neem ons dit maar net aan as historiese gebeure wat die verbeelding van die wêreld aangegryp het, of energeer dit ons tot dienslewering, om uit te gaan en hierdie koninkryk wat Hy begin bou het tydens sy aardse optrede, uit te rol vir die wêreld met sy baie onvrede en konflik.

Mag ons as opstandingsmense, wat die nuwe lewe in Christus in ons ontvang het, sy bevele uitvoer en uitgaan om die koninkryk van God te verder uit te bou.

Here, dankie dat ek die voorreg het om aan te hou en u koninkryk op aarde uit te bou. Help my asseblief daarmee.

Amen.