Gedagte vir die dag | Maandag 17 Januarie 2022

1 Tessolosense 5:16: Wees altyd bly. Bid gedurig. Wees in alle omstandighede dankbaar, want dit is wat God in Christus Jesus van julle verwag. Moenie die werking van die Heilige Gees teenstaan nie. 20Moenie profesieë geringskat nie, 21maar toets dit alles, behou wat goed is, 22en bly weg van alles wat sleg is.

Ek sit vroegoggend hier op die stoep by my huis en uitkyk oor my tuin terwyl ek met die oordenking besig is.  Ek dink daaroor na dat ek vandag net ’n gevoel van dankbaarheid het wat oor my spoel.  Ek kyk terug oor my loopbaan as predikant en dink na oor die laaste erediens wat ek hier in die kerk gaan behartig.  Teen die einde van die maand is ek nie meer ’n voltydse predikant in die gemeente nie, alhoewel ons steeds in die gemeente gaan aanbly.

Ek kyk terug oor ’n klomp jare, seëninge wat ek ontvang het en ook in die besonder oor waar ek tans in my persoonlik lewe is. Ek is gesond met soveel seëninge om my, en toe het ek  hierdie teksvers weer gaan soek: “Wees in alle omstandighede dankbaar.” Wees dankbaar as dit met jou goed gaan.  Maar ek dink dit wat die Bybel sê, is juis om in alle omstandighede die vermoë te hê om dankbaar te wees vir dit wat ons  het, ten spyte van die omstandighede. Ons is dikwels geneig om met die witbrood onder die arm te kla.

Ek het gedink aan die verhaal wat ek jare terug gehoor het, dat daar in sommige dele van Meksiko spruite is, waar warm en koue water baie naby aan mekaar is. Weens die gerief wat die natuurverskynsel bied, bring die arm vroue wat nie wasmasjiene het nie, hul wasgoed daarheen. Hulle laat die klere dan so deurkook in die warm water, en spoel dit dan uit in die koue water. Op ’n dag het ’n toeris wat die proses dopgehou het teenoor sy Meksikaanse gids opgemerk: “Die dames moet seker baie dankbaar wees teenoor God wat so goedhartig is om vir hulle ’n onophoudelike bron van vars koue en warm water gee en dat hulle vrye gebruik daarvan kan hê.

Die Meksikaanse gids het geantwoord: “Moenie glo nie, mense is maar mense. Hierdie vroue kla vreeslik omdat hulle self die seep moet saamsleep.”

En soms gaan dit so met ons ook.  Ons het baie dinge waaroor ons so geseënd is, en dan is dit die klein krapperigheidjies waaroor ons ontevrede en ongelukkig is. Ons teksvers sê: “Wees in alle omstandighede dankbaar.” Miskien moet ek en jy gaan sit en neerskryf (en my lys is so lank) waaroor ek vir die Here innig dankbaar kan wees. Mag ek en jy die vermoë hê om die warm en koue water wat oor ons spoel raak te sien en nie geïrriteerd te raak met die seep wat nie vir ons gegee word nie.

 

Gebed:

Here, dankie vir u seëninge, op soveel vlakke. Gee dat ons u goeie guns sal raaksien in ons lewens.

Amen