Gedagte vir die dag | Maandag 16 Augustus 2021

 

Gebed en Woorde:

Verskeie vertalings wys vir ons dat Jesus vir 40 dae en nagte gebid het toe Hy in die woestyn beweeg het en deur die duiwel versoek is. Die vraag is het Jesus vir 40 dae en nagte woorde gebruik om te bid, of is gebed iets anders?

Ons is van kleins af geleer dat gebed net in die vorm van woorde gedoen kan word. Die Anglikaanse priester en skrywer Richard Rohr het egter gebed as ’n staat van bewustheid beskryf. Toe Jesus in die woestyn beweeg het, was sy gebede nie net woorde nie, maar hy het in ’n staat van bewustheid beweeg.

Matteus 4:1-11

Die versoeking in die woestyn  (Mark. 1:12-13; Luk. 4:1-13)

1Toe is Jesus deur die Gees die woestyn in gelei om deur die duiwel versoek te word. 2Veertig dae en veertig nagte het Hy niks geëet nie en naderhand het Hy honger geword.

3Die versoeker het toe gekom en vir Hom gesê: “As U die Seun van God is, sê hierdie klippe moet brood word.”

4Maar Hy antwoord: “Daar staan geskrywe: “’n Mens leef nie net van brood nie maar van elke woord wat uit die mond van God kom.”

5Daarna neem die duiwel Hom na die heilige stad toe en laat Hom op die hoogste punt van die tempel staan 6en sê vir Hom: “As U die Seun van God is, spring af! Daar staan mos geskrywe: “Hy sal sy engele oor jou opdrag gee en: “Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie.”

7Jesus sê vir hom: “Daar staan ook geskrywe: Jy mag die Here jou God nie op die proef stel nie.”

8Toe neem die duiwel Hom na ‘n baie hoë berg toe, wys Hom al die koninkryke van die wêreld met hulle prag 9en sê vir Hom: “Dit alles sal ek vir U gee as U neerval en my aanbid.”

10Maar Jesus sê vir hom: “Gaan weg, Satan, want daar staan geskrywe: “Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.”

11Daarna het die duiwel Hom met rus gelaat, en daar het engele gekom en Hom versorg.

Die versoeker versoek Jesus, maar Hy word nie deur die versoekings beïnvloed nie. Juis omdat Hy in ’n staat van bewustheid met God leef. Dit is omdat Jesus bewus is van wie Hy is en wie God is, dat hy nie ingee nie. Wat beteken dit om in ’n staat van bewustheid te bid?  Dit beteken dat gebed meer moet wees as woorde.  Die mense waarmee jy in aanraking kom vandag is deel van die gebed, die gesprek wat vandag by die werk het is ook gebed. Die gedagtes wat jy het as jy die nuus lees is gebed. Dit beteken dat enige sekulêre nuus of gebeure deel van ons verhouding met God kan wees.  Ons moet bewus wees dat alles deel is van ons gebede, nie net ons woorde nie. Mag jy bid soos Jesus bid, in ’n staat van bewustheid.

Kom ons bid saam:

Here, ons wil vanoggend daarvan bewus word dat U deel is van ons hele lewe.  Ons wil vandag in gebed leef  – gebed wat nie net woorde is nie, maar gebed wat deel is van alles wat ons doen. Mag ons vandag bewus wees van U teenwoordigheid.

Amen.