Gedagte vir die dag | Maandag 15 Mei 2023

Johannes 1:14. 14Die Woord het mens geword en onder ons kom woon. Ons het sy heerlikheid gesien, die heerlikheid wat Hy as die enigste Seun van die Vader het, vol genade en waarheid.

 GEDAGTE

God het Sy Seun na die aarde gestuur as ’n gewone mens soos ek en jy. Hy was natuurlik net sonder sonde. Deur self ’n mens te word en onder ons te kom woon, kon Jesus daarin slaag om ons as mens se situasie werklik te verstaan. Jesus het self ook menslike emosies en pyn ervaar en daarom verstaan Hy ons as mense soveel beter. Hy moes Sy lewe aflê sodat ons sondes vergewe kon word.  Dit kon net gebeur deurdat Hy ons sonde op Hom geneem het en in ons plek daarvoor betaal het.

Het jy al mooi daaroor nagedink wat dit beteken dat God regtig ’n méns van vlees en bloed geword het? In Johannes 1:14 lees ons: En die Woord (= Jesus Christus) het mens geword en by ons kom woon Hy, die groot God wat van voor die skepping van die wêreld al daar was, het dus besluit om af te daal en tussen ons mense te kom tent opslaan. Hy het in ons buurt – hier langs ons – kom intrek en in alle fasette soos ons geword, behalwe net nie vir die sonde nie. Dit het Hy gedoen omdat net ’n méns vir ons sondes kon betaal. Hoe aangrypend is hierdie waarheid nie! En hoe uniek maak dit ons Christengeloof nie: dis immers net ons God wat uit die hemel neergedaal en tussen ons kom bly het.

GEBED

Hemelse God en Vader dankie dat U wat so groot en heilig is bereid was om onder ons te kom woon en al ons sonde op U te neem.

AMEN