Timoteus 1:7: “Die Gees wat God ons gegee het, maak ons immers nie lafhartig nie, maar vul ons met krag en liefde en selfbeheersing.”
Ek wil ’n bietjie stilstaan by moed in tye van beproewing of wanneer dit moeilik gaan. Willem Nicol is ’n bekende predikant in die NG Kerk, maar sy pa dr. Willem Nicol senior, het blykbaar jare gelede tydens ’n toespraak op Stellenbosh gepraat oor die eienskappe van ’n held, maar oor spesifiek moed as ’n belangrike eienskap genoem. En om dit te verduidelik het hy vertel hoe hy eenmaal op ’n plaas buite Pretoria huisbesoek gedoen het. Hy sê toe hy by die eerste plaas inry, was daar ’n land vol waatlemoene. Die boer sê toe vir hom dat hy hoop om darem so 300 pond vir die waatlemoene te kry.
Na die besoek by die boer met die waatlemoene is hy toe na ’n ander plaas toe. Intussen het daar ’n geweldige haelstorm uitgebreek en toe hy later die middag weer by die waatlemoenland verby ry, sien hy net ’n papery van wit, rooi en groen op die land lê. Dis die hael het verwoesting gesaai. Hy besluit toe dat hy ’n goeie pastorale dominee is, en ry toe weer by die boer aan om met hom te simpatiseer oor die verlies. Toe hy met die boer gesels, sê die boer vir hom: “Ja dominee, ek het nou so gereken, as ek Maandag aartappels insit, dan behoort ek darem oor so drie maande weer ’n oes te kan insamel.” As jy wil vra wat moed en positiwiteit is – die boer se gesindheid illustreer dit voorwaar.
Boere ken dié afhanklikheid, van die Here. Aan die een kant om kop neer te sit en om vorentoe te gaan ten spyte van teleurstellings, en dit wat gebeur. Ons is in die lydingstyd en ons het die afgelope Sondag die vierde lydingskers doodgeblaas. Lydingstyd wil ons herinner dat Jesus Christus as mens die lydingspad geloop het. Hy kan met ons identifiseer, wat ook al die omstandighede is – of dit nou waatlemoene is wat stukkend geslaan word, en of dit ’n ander soort pyn, of seer, of krisis is, wat ’n mens beleef. Miskien is dit iets wat jyself, of jou kinders beleef, of dalk is dit net ’n worsteling.
2 Timoteus 1: “Die Gees wat God ons gee, maak ons nie lafhartig nie, maar vul ons met krag ook in die krisis, ook as ons voel ons verloor moed, met liefde en selfbeheersing.”
Mag die Here die genade vir my en jou gee om in ons laagtepunte, as ons deur beproewinge gaan, met krag, en liefde en selfbeheersing vervul te word.
Gebed
Here, gee ons die genade om met u krag en u selfbeheersing vervul te word. Dankie vir die gestalte van u genade en liefde, om groter as ons omstandighede en ons beproewing te wees. Gee vir elkeen van ons moed.
Amen.