Gedagte vir die dag | Maandag 15 Februarie 2021

Matteus 10:29: “Is twee mossies nie vir ‘n sent te koop nie? En tog sal nie een van hulle op die grond val sonder die wil van julle Vader nie. Van julle is selfs die hare op julle kop almal getel. Moet dan nie bang wees nie. Julle is meer werd as baie mossies.”

Matteus 19: 14: Maar Jesus het gesê: “Laat staan die kindertjies en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel is juis vir mense soos hulle.”

Ek probeer nogals gereeld by die Kunstefees uitkom, maar dit is nou vir eers iets van die verlede.  Verlede jaar kon ons nie gaan nie, maar ek het gedink aan ons eie sagmoedige Neelsie – CJ Langenhoven, sy teenwoordigheid is mos baie sterk op Oudtshoorn.

Op ’n stadium het hy blykbaar gekla omdat hy nie tyd gekry het om al die briewe wat mense aan hom skryf te beantwoord nie.  Hy was mos ook ’n parlementslid.  In daardie tyd kon ’n mens nie “copy and paste” om vir almal dieselfde gesê te kry nie.  Hy  het oorweeg om net 10 uit elkeen van die 100 briewe wat hy ontvang het, te beantwoord, en dan eerder op sy ander noodsaaklike werk, te fokus.  Hy het sy dilemma met iemand bespreek en die persoon het hom soos volg geantwoord: “Maar elkeen verwag dan ’n antwoord? Wat van die ander 90 uit die 100 mense wat nie geantwoord word nie?” Langenhoven het toe skielik onthou van die mossie.  God het tyd vir elke mossie – beeldspraak in Matteus 10:29.  In werklikheid is dit so.  Ons vergeet so maklik die waarde van een mens, want elke mens wil raakgesien word.  Of jy nou oud of jonk, arm of ryk, belangrik of onbelangrik is.

Dit kom ’n mens ook nogals agter wanneer jy ’n dominee is.  Hoe kosbaar is dit nie wanneer jy mense bedien nie.  Soms doen ’n mens nie veel nie,  soms besoek jy net iemand,  of jy bid vir die persoon en dan sien ’n mens hoe hulle reageer, veral wanneer mense swaarkry, of  eensaam en alleen voel.  Maar ons kan so maklik bo oor mense kyk en net die skare om ons raaksien, en so verdwyn die enkeling.

Elke mens met ’n hart, wat seergemaak of bly gemaak kan word, het behoeftes wat gevul of geïgnoreer kan word. Luister hoe slaan Langenhoven die spyker verder op sy kop: “juis die ywerigstes, diensvaardiges onder ons, wat besig is met die groot werk in die kerk, in die staat of in die maatskappy is geneig om te vergeet dat die klein alledaagse diens oneindig meer werd is as die groot algemene diens.”

Wat beteken dit vir my en jou? Dit beteken dat ons moet belangstel in elke mens wat oor ons pad kom.  Groet gerus maar eerste, glimlag meer en leer om te luister.  Leer om te luister as die Here iemand deur Sy Heilige Gees op jou pad neerlê, of as die gedagte opkom.  Stuur maar ’n boodskap, reik uit, gee die ekstra tree.

Dit is wat Jesus se lewe besonders gemaak het. Jesus het elke mens raakgesien.  Goeie mense, maar ook minder goeie mense.  Die humeurige Petrus,  ’n Samaritaanse vrou, die skelm Saggeus, selfs die moordenaar aan die kruis, en so kan ek aangaan.  Ook ander enkelinge, armes, siekes, eensames, ja selfs die kleinstes onder hulle.  Daarom het hy gesê in Matteus 19: “Laat staan die kindertjies, en moet hulle nie verhinder om na My toe te kom nie, want die koninkryk van die hemel, is juis vir mense soos hulle.”

Gebed

Here dankie dat U met u lewe vir ons gewys het dat elke mens belangrik is. Ons belei dat ons nalaat om juis goed te doen en uit te reik.  Dankie dat U elke dag mense op ons pad plaas.  Maak ons sensitief vir u stem, wat op verskillende maniere na ons toe kom.   Dankie vir diegene wat aan ons aandag gee,  na ons toe uitreik en ons waardevol en kosbaar laat voel.

Amen.