Gedagte vir die dag | Maandag 15 Augustus 2022

Filippense 4:13  13″Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Kan ’n mens regtig álles doen as Christus by jou is en jou help – net wat jy wil? Kan jy byvoorbeeld al jou persoonlike ideale en doelwitte bereik met die krag wat Hy vir jou gee? Gaan mislukking dáárin dus vir jou ’n bewys wees dat die Here jou om een of ander rede nie (genoeg) krag gegee het nie? Nee, dis nie wat in hierdie vers staan nie. Maar hier is ’n ander waarheid in wat ons moet hoor.

Dit is dat Christus ons krag gee om alles wat Hy op ons pad laat kom, te kan deurstaan. Christus gee ons krag om alle omstandighede te kan deurstaan.

Ek is tot alles in staat . . . mense wat van hierdie ’n uitspraak maak dat ons as Christene met behulp van die Here nou enige iets kan regkry, dat ons sulke super-suksesvolle wesens kan word, misbruik hierdie teks. Hierdie woordjie “alles” beteken nie al my persoonlike ambisies en ideale en doelwitte nie, maar dat dit hier verwys na al die verskillende omstandighede waarin ek in my lewe kan beland. Met die Here se genade sal ek daardeur kan kom.

Daarom, as Paulus oor sy lewe terugkyk, kom hy met hierdie kragtige standpunt: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” Met die Here se hulp sal ek in goeie en in slegte tye kan volhard. Ek sal kan doen dit waarvoor die Here my gemaak het. Ek sal die doel van my lewe kan bereik, want Hy gee my krag. Ek is tot soveel meer in staat as wat ek met my twyfel kan dink. Want, Hy het die goeie werk in my begin, wat Hy gaan klaarmaak. Ek is altyd in goeie hande. Onder enige omstandighede. Ek lewe in sy lig, en in sy liefde, met sy hoop.

GEBED

Hemelse God en Vader ek plaas my hoop in U. Stap saam met my. Help my asseblief in alle omstandighede. Amen