Psalm 23: Die Here is my herder
1’n Psalm van Dawid. Die Here is my herder, ek kom niks kort nie. 2Hy laat my rus in groen weivelde. Hy bring my by waters waar daar vrede is. 3Hy gee my nuwe krag. Hy lei my op die regte paaie tot die eer van sy Naam. 4Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie, want U is by my. In u hande is ek veilig. 5U laat my by ‘n feesmaal aansit, terwyl my teëstanders moet toekyk. U ontvang my soos ‘n eregas, ek word oorlaai met hartlikheid. 6. U goedheid en liefde sal my lewe lank by my bly en ek sal tuis wees in die huis van die Here tot in lengte van dae.
Die pragtige laaste vers van hierdie bekende Psalm is ‘n opsomming oor die lewe en dood. Wat die lewe betref maak Dawid hierdie kragtige geloofsuitspraak, ten spyte van die feit dat hy ook baie teëspoed geken het: NET GOEDHEID EN GUNS SAL MY VOLG AL DIE DAE VAN MY LEWE.
Dawid het die Here as sy Herder geken en vir al die dae van sy lewe gevolg. Soms was dit groen weivelde, soms donker dieptes. As hy dan kyk na die pad wat voor hom lê is daar een vaste sekerheid wat hoop gee. Die Here se goedheid en liefde sal vir altyd by hom wees. God self deel dit uit – Hy is met ons vir die res van die ewigheid. Wanneer ons aardse reis dan klaarmaak, dan word ons, die kinders van die Here, teruggeneem na ons Vader se huis, tot in lengte van dae. Ons weet reeds wat ons eindbestemming is. Jesus het in Johannes 14:2 gesê dat daar baie woonplek in sy Vader se huis is, wat Hy gereed gaan maak het. Omdat ons eindbestemming bekend is, het ons altyd hoop. Die reis mag moeilik wees, maar die Vader se huis wag, daar sal ons rus vind.
GEBED
Here stap saam met my op die pad van die lewe. Dit is goeie nuus om te weet dat ek na al die aardse seerkry en swaarkry kan uitsien na ’n ewige tuiskoms by U. Amen