Gedagte vir die dag | Maandag 14 Desember 2020

Lukas 1:29-31.” Sy was verbysterd oor die woorde en het gewonder wat die begroeting tog kon beteken. Die engel sê toe vir haar: “Moenie bang wees nie, Maria, want God bewys genade aan jou.  Jy sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring, en jy moet Hom die naam Jesus gee.”

Vandag fokus ons op hierdie woorde in die teks:  “Jy moet Hom die naam Jesus gee.” Die naam “Jesus” is die Griekse vorm van die Hebreeuse Yēshūa wat “God is verlossing” beteken. Dit was ’n algemene Joodse naam, met ’n unieke betekenis. Jesus was inderdaad die Verlosser wat na die aarde gestuur is om ons van ons sonde te verlos. Soos ons lees in Matteus 1:21 “Sy sal ’n Seun in die wêreld bring en jy met Hom Jesus noem, want dit is Hy wat sy volk van hulle sondes sal verlos.”

Met hierdie woorde gee die engel ’n belangrike aanduiding van Jesus se sending na die wêreld. Hy het ons kom verlos. Dit beteken dat ons sonde nie langer die pad tussen ons en God, of tussen ons en mekaar toemaak nie. Jesus is gebore om ons Verlosser te wees.

Vandag hoor ons weer die wonderlike aankondiging van God se Seun wat gebore sou word. Lukas wil dit baie duidelik maak dat hierdie Jesus wat gebore gaan word die ware en enigste Verslosser is.  Die vraag wat ons onself moet vra is: “Wat maak ek met hierdie gebeurtenis?”  Wat maak ek met hierdie wonderlike nuus dat die enigste en ware Verlosser, Jesus Christus, gebore is?  Is Hy al jou persoonlike Verlosser en Saligmaker?

GEBED

Here, Ek sou eenkeer Kersfees wou vier,

Sonder al die sprokie versinsels

En sonder ‘n boom uitspattig versier

Met blinkers en beeldjies en lintsels

Geen Kersverhaal, liedjies of pret

Net diep neergebuig op my knieë

Voor die heerlikheid wat my kom red.

En Sy engele hoor wat Hom roem

Om woordeloos stil te kan luister,

As hulle Hom Redder en Here noem.

Los van die lawaai van die wêreldse duister

Soos die Herders die Heiland wou eer

Ek gekniel met die stilte om my heen

Dan vier ek die fees, net met my Heer alleen.

AMEN