Gedagte vir die dag | Maandag 14 Augustus 2023

Liefdevolle Vader en Genadige God

Ons harte is swaar en seer oor die oorweldigende trauma, verlies en swaarkry waaraan so baie weerlose mense in ons samelewing uitgelewer is en onder gebuk gaan.

Ons gemeenskappe en openbare instellings steier onder die vernietigende gewig van misbruik en onreg.

Ons is bang en benoud en word deur vrees en uitsigloosheid gevange gehou waar ons wegkruip agter slot, grendel en angstig skuil agter hoë mure.

In ons gemeenskappe blyk dit of geweld en misdaad die oorhand kry en lewens bedreig en uitmekaar skeur.

Waar is U in dit alles Here?

Wanneer gaan U die storm om ons kom stilmaak?

Is U wil nog besig om te geskied?

Is U koninkryk nog aan die kom?

Waar is daar vir ons uitkoms?

Hoekom antwoord U ons nie?

Sal die lig van die nuwe dag nog vir ons breek of sal ons oorrompel word deur die duisternis van die lang nag van hooploosheid?

Te midde van die dood wat ons bedreig van alle kante glo ons dat u Gees oor die chaos gesweef het en lig en lewe gespreek het.

Dit is U wat ons geskep het na u beeld om te doen wat goed is en as gelykes mekaar tot hulp te wees en te versorg.

Wanneer moedeloosheid, verval en gebrokenheid ons verhoed om te glo dat U inderdaad alles hier nuut gaan maak, bid ons vir ’n nuwe prentjie van u koninkryk en ’n ruimer verstaan van u geregtigheid.

Lei ons dan, O Heer, om ons harte te ontsluit deur u genade en ons oë op U te rig en ons vertroue te plaas in u weg en om sonder huiwering koers te kies op u pad wat lei tot herstel, geregtigheid en ware vrede.

Amen