Gedagte vir die dag | Maandag 13 Desember 2021

Matteus 1:23.  Die maagd sal swanger word en ‘n seun in die wêreld bring en hulle sal hom Immanuel noem. Die naam beteken God by ons.

Dat God mens kom word het is ‘n groot gedagte. Dit is maklik om God se menswees met jou eie menswees te verbind, maar nie so maklik om te aanvaar dat dit ook die menswees insluit van mense van wie jy nie hou nie. Dit is wonderlik dat ons die voorreg het om op hierdie manier in ’n persoonlike verhouding met God te staan, maar dit is ook ’n groot uitdaging, omdat ek ook moet aanvaar dat God se manier en paaie nie met almal dieselfde is nie.  Dat God dus mens kom word het vra dus van ons om die ruimte van ons menswees so te kan vergroot en nie toe te laat dat ooglopende verskille ’n streep deur hierdie groot gedagte kom trek nie. Immanuel beteken nie net God by my is nie – dit beteken God is by “ons” en die “ons” lyk baie anders as wat ons dink. Mag die groot gedagte van “God by ons/ Immanuel”  in hierdie Kerstyd ons help om meer verdraagsaam, inskiklik en vriendelik te wees om die wonder van God ook vanuit mense wat anders is te kan beleef.

Gebed

Here, leer my wat nederigheid is. Leer my die gesindheid van menswees waarmee U op aarde geleef het, met respek teenoor almal, hoe eenvoudig, armoedig of onbelangrik ook al. Dankie dat u menswees in my eie menswees resoneer, maar ook my in staat stel om met ander mens te kan meeleef.

Amen.