Gedagte vir die dag | Maandag 12 September 2022

Vandag is Maandag 12 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir sy kinders. Hierdie reeks ontgin ’n paar van die beloftes wat baie van ons vrese aanspreek en vir ons vrede gee sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.

Die vyfde belofte waarna ons kyk vandag is: Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie (verse 35-39).

35 Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36 Daar staan immers geskrywe: “Dit is oor U dat die dood ons dag vir dag bedreig, dat ons soos slagskape behandel word.”37 Maar in al hierdie dinge is ons meer as  oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38 Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39 of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Hierdie gedeelte van die brief is in die vorm van ’n oorwinningslied geskryf. Die woord wat Paulus vir hierdie oorwinning gebruik, is ’n woord wat nêrens anders in die Nuwe Testament voorkom nie. Hy stel dit in die oortreffende trap – ons is méér as oorwinnaars! Hierdie oorwinning bestaan daarin, dat die band waarmee ons aan Christus gebind is, nie verbreek word deur die swaarkry in ons lewens nie. Hierdie band groei en triomfeer juis deur die ontberinge wat ons verduur. Mag jy vandag vashou aan hierdie enorme belofte met die wete dat te midde van lyding, benoudheid of vervolging bly die Here getrou en is daar niks wat jou van sy liefde kan skei nie.

Gebed: Here, help my om nie in die vrese in my lewe vas te kyk nie, maar eerder aan u beloftes vas te hou. Dankie dat U vir my lief is en dat niks my ooit van U liefde af kan weghou nie. Amen.