Gedagte vir die dag | Maandag 12 Desember 2022

Matteus 5: 14-16 “Julle is die lig vir die wêreld. ‘n Stad wat op ‘n berg lê, kan nie weggesteek word nie; ook steek ‘n mens nie ‘n lamp op en sit dit onder ‘n emmer nie maar op ‘n lampstaander, en dit gee lig vir almal in die huis. Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.”

Refleksie

Jesus skets hier ’n komieklike prentjie van iemand wat ’n lamp aansteek, net om die lamp weg te steek onder ’n emmer. Daarmee nooi Jesus ons uit om te reflekteer oor of ons dit nie miskien met die lig wat God in ons laat skyn, ook doen nie? Kry ons nie soms skaam en probeer ons lig wegsteek nie? Daarmee saam nooi Jesus ons uit om met vrymoedigheid ons lig te laat skyn.

In die vorige teksgedeeltes van die week het ons gesien dat Jesus die ware bron van lig is. Maar hier sê Jesus, “julle is die lig vir die wêreld.” Wat waar is van Jesus, word waar vir sy volgelinge. Maar tog, is die veronderstelling daar dat die lig nie vir ons eie heerlikheid is nie. Ons lig is nie veronderstel om onsself te verheerlik nie – ons lig is veronderstel om ons Vader wat in die hemel is, te verheerlik. Wanneer mense na Jesus se volgelinge kyk en die manier sien wat ons vir Jesus volg, met liefde en opoffering, behoort hulle vir God raak te sien.

Mag ons ons lig so laat skyn, dat almal kan sien dat ons vir Jesus volg, en ons Vader wat in die hemel is, verheerlik.

Gebed

Here God, dit is soms vir ons moeilik om die lig wat U vir ons gee, te laat skyn. Soms voel ons skaam, of nie goed genoeg nie en probeer ons eerder ons lig wegsteek. Mag u ons help om ons lig te laat skyn, sodat, wanneer mense na ons kyk, hulle u heerlikheid sal sien.

Amen