Lukas 24:7-26. Hy vra hulle toe: “Wat is dit wat julle so ernstig met mekaar loop en bespreek?”Met somber gesigte gaan hulle staan, 18 en een van hulle, met die naam Kleopas, antwoord Hom: “Is u dan die enigste vreemdeling in Jerusalem dat u nie weet van die dinge wat in die afgelope dae daar gebeur het nie?”19. Hy vra vir hulle: “Watter dinge?” Hulle antwoord Hom: “Die dinge in verband met Jesus van Nasaret, ‘n profeet wat magtig was in woord en daad voor God en die hele volk; 20 en hoe ons priesterhoofde en die lede van ons Raad Hom oorgelewer het om ter dood veroordeel te word, en Hom gekruisig het. 21 Ons het so gehoop dat dit Hy is wat Israel sou verlos. Maar boonop is dit vandag al die derde dag vandat die dinge gebeur het. 22 En nou het ‘n paar vroue uit ons kring ons ook nog ontstel. Hulle was vanmôre vroeg by die graf 23 en kon sy liggaam nie kry nie. Hulle het kom vertel dat hulle ‘n verskyning gesien het van engele wat gesê het Hy lewe. 24 Sommige van ons mense het ook na die graf toe gegaan en dit net so gekry soos die vroue gesê het, maar Hom het hulle nie gesien nie.”25 Toe sê Hy vir hulle: “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ‘n traagheid van gees! Glo julle dan nie al die dinge wat die profete gesê het nie? 26 Moes die Christus nie hierdie dinge ly om in sy heerlikheid in te gaan nie?”
Die manier hoe ons die lewe tydens die pandemie benader, maak saak. Dit is so maklik om baie negatief te raak omdat die wêreld om jou besig is om te verander, of omdat dinge net nie meer is, soos jy daaraan gewoond is nie. Die Emmaus-gangers het ’n sekere perspektief oor Jesus se dood gehad. Hulle het verwag dat Christus vir Israel sou verlos, maar die idee dat Christus se liggaam nie meer in die graf was nie het hulle toe laat dink dat dit nie meer gaan gebeur nie. Daarom sê Christus vir hulle “Wat ‘n gebrek aan begrip en wat ’n traagheid van gees!”.
Shaun Achor ’n Amerikaanse sielkundige vertel die verhaal van hoe die lens waardeur ons die wêreld benader ons geluk en lewe kan beïnvloed. Hy vertel van hoe hy as kind sy sussie oortuig het sy soos ’n perd geland het toe sy van die bed af geval het en haar arm gebreek het. Die verandering in haar perspektief het haar dadelik laat ophou huil. Hoe waar is hierdie konsep nie vir ons in ons eie lewens vandag nie? As ons die lens van ons verwagtings verander kan ons lewe sien te midde van die dood. Christus se opstanding gee vir ons die vermoë om nuwe lewe te sien.
Gebed
Here, dankie dat U ons weer nuwe lewe kom gee deur die Kruis en u opstanding. Dankie dat ons weer opnuut kan besef dat hoe ons na die lewe kyk tydens hierdie pandemie – saak maak. Here, mag ons in hierdie tyd weer ons verwagtings en ons lense waardeur ons die wêreld benader skoon maak om lewe in ’n tyd van onsekerheid en seer te ontdek.
Mag jy in hierdie tyd deur ’n nuwe lens die wêreld benader omdat Christus opgestaan het uit die dood om nuwe lewe te bring. Mag jy anders kyk, om lewe te sien.