Gedagte vir die dag | Maandag 10 Mei 2021

Matteus 11:28-29.  “Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus kry vir julle gemoed.”

Wat doen jy om rus vir jou gemoed te vind?  Sommige mense oefen hard, terwyl ander hou van lees of om ’n reeks op die televisie te kyk. Ons probeer op allerhande maniere om ons gedagtes van spanning skoon te maak.  Wat sou dit vir jou beteken om na die Here vir rus te gaan?  Die teks praat met ons oor die dissipline om ’n ruimte te betree waarbinne jy op God kan fokus en waar jy jou lewe voor Hom kan blootlê.  Is daar so ’n oomblik en ruimte in jou dag?  Begin met die bekende woorde van hierdie teks: “Kom na my toe almal wat uitgeput en oorlaai is, ek sal vir jou rus gee”.

Gebed

Here, dankie dat ek vandag my rus in U kan vind – bo alle aardse rykdom of roem. Maak dit die basis waaruit ek elke dag in my lewe kan ingaan en dat ek daardeur die siklus van geestelike en fisiese moegheid in my lewe kan deurbreek. Ek loof U vir die rus wat ek in hierdie oggend by U kan kom kry en die wyse waarop dit die dag wat op my wag kom verander.

Amen.