Galasiërs 5:25. Ons lewe deur die Gees, laat die Gees nou ook ons gedrag bepaal.
Elke liewe dag wat op ons wag is gevul met geleenthede waar ’n mens keuses moet uitoefen en besluite moet neem. Wat ’n mens op die einde kies en besluit is die gevolg van hoe ons voel en dink. Ons toets ons gevoelens en gedagtes deur raad van mense in te win, self na informasie te soek en die gevolge te oorweeg. Op die einde bly dit egter elke persoon se eie besluit. Ons teks help ons om te verstaan dat die Here se Gees deur hierdie maniere by ons is en met ons praat. Dit beïnvloed ons denke, temper ons emosies en verskerp ons intuïsie sodat ons besluite kan neem en dinge gedoen kry. Raak dus bewus daarvan dat die Here deur elke dag voortdurend by jou is en met jou praat. Ook in die tye wanneer ‘n mens miskien nie weet wat om op ‘n bepaalde oomblik te doen nie, herinner die Prediker daaraan dat daar ook hiervoor ’n tyd is. Om vir te wag op ’n antwoord vanaf God, is nie noodwendig God wat stil is nie, maar dit mag juis die tyd wees waarbinne die Here jou vir ’n oomblik tot stilstand wil dwing om in ’n ander rigting te kyk.
Gebed
Here, Prediker leer ons dat daar in die lewe ’n tyd vir alles is. Here, gee my die wysheid om in pas te kom met u Gees wat my lewe deurdring. Maak my sensitief vir wanneer om te praat en wanneer om stil te bly. Gee my die wysheid om informasie te kan onderskei en nie net altyd die voor die hand liggende antwoord te kies nie. Maar meer, Here dankie vir die wonder dat al hierdie dinge nie alleen op my afkom nie, maar dat u Gees my lewe deurspoel en lei na mense, plekke en keuses.
AMEN.