Gedagte vir die dag | Maandag 1 Februarie

2 Petrus 3:13. “Maar ons leef in die verwagting van ’n nuwe hemel en ’n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

John Lenon het op ’n dag gesê: “Everything will be ok in the end, and if it is not ok, it is not the end”.  As Christene is ’n groot deel van ons troos dat alles eendag “ok” sal wees wanneer Jesus weer terugkom en alles nuut sal maak.  Ons leef in die belofte van ’n nuwe hemel en aarde.  Die vraag is of ons dus tot tyd en wyl “ok” is om die realiteit te leef dat alles nie “ok” is nie.  Die verwagting waarvan Petrus in ons teks praat behels meer as maar net ’n tipe wag-en-uithou-geloof.  Ons is reeds vandag “ok” omdat ons nie eers eendag gaan glo in ’n God wat heers nie, maar vandag leef in die vertroue dat God se wil nou reeds heers.  Laat toe dat hierdie belofte vandag tot jou lewe en wêreld deurdring.  Laat hierdie volgende baie bekende lied vandag jou gebed wees.

Gebed

Ek weet verseker dat Jesus leef, Hy het my sonde uit liefde vergeef.  Ek was verlore, maar deur sy bloed, is daar nou vrede in my gemoed.  Hy is my Liedsman, Hy laat my leef,  Hy is oorwinnaar,  Hy is die Heer. Selfs as ek struikel en het berou. Hy sal vergewe, Hy bly getrou.

AMEN.