Vandag is Donderdag 8 September en hierdie week reis ons saam deur na te dink oor God se beloftes. Die teks vir hierdie week is Romeine 8:26-39. Die teks bevat talle beloftes van God vir God se kinders. Hierdie reeks ontgin ’n paar van hierdie beloftes. Die beloftes spreek baie van ons vrese aan en gee vir ons die vrede sodat ons voluit en met waagmoed kan leef.
Die eerste belofte waarna ons vandag kyk is: God se Gees staan ons in ons swakheid by (verse 26-27).
26 Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27 En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges.
Het jou woorde al ooit opgedroog? Het jy dalk al net nie meer geweet wat om te sê, of hoe om te bid nie. Hierdie bogenoemde belofte gee ons soveel gemoedsrus met die wete dat God jou hartsgebede hoor. Selfs die woorde wat ons nie bid nie. Dit is immers hoe die Gees ons elkeen bystaan in ons swakhede. Die Heilige Gees wat in en by jou is, hoor jou gesug. Trouens, Hy hoor nie net nie, maar pleit saam met jou, en vir jou, by die Vader. En raai hoe? Met versugtinge wat nie met woorde gesê kan word nie! God ken die mens deur en deur. Mag jy vandag vashou aan hierdie waarheid, selfs in tye van onsekerheid of magteloosheid.
Gebed: Here, dankie dat U my altyd in my swakheid, my foute en my onsekerheid bystaan.
Amen.