2 Petrus 3:13. “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”
Die teks herinner my aan die baie bekende lied, “Ek sien ’n nuwe hemel kom”. Dit smag na ’n tyd waar alles heel en nuut sal wees. ’n Tyd waar vrede sal heers en alle pyn, hartseer, dood en onsekerheid sal verdwyn. Die vroeë gelowiges het hulle verwagting met die woord “Maranata” opgesom, wat beteken “kom tog gou Here en skenk aan ons ’n nuwe realiteit”. Hoe hierdie nuwe hemel en aarde eendag gaan lyk en wanneer dit gaan aanbreek weet ons nie, maar ons weet wel dat dit nou op ’n geheimenisvolle wyse nuwe betekenis aan ons hede gee. “Maranata”, was dus nie vir die vroeë gelowiges net ’n droom van ’n vae eendag nie. Dit het hulle juis gehelp om nou reeds met vrede, hoop en liefde in hulle hede te leef, omdat God reeds deur sy Gees in hulle teenwoordig was. Ons leef vandag in die geloof van Romeine 8:38 dat niks in hierdie lewe ons ooit van die liefde van Christus kan skei nie. Op dié vreemde manier herinner dit ons dat terwyl ons vir die “eendag” wag, die nuwe hemel en aarde reeds nou op onverwagte wyses in ons hede deurbreek.
Gebed
Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, dat ek ‘n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld, ’n plek van korrupsie, lyding en verganklikheid, kan help transformeer tot ’n plek waar u lig, en vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my so gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van u troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid.