Johannes 10:11. 11“Ek is die goeie herder. Die goeie herder lê sy lewe af vir die skape.
Refleksie
Jesus gebruik hier ’n bekende metafoor wat gereeld in die Bybel voorkom van ’n herder om homself te beskryf. Maar wat Jesus sê met hierdie beeld is eintlik skokkend. Geen herder sal sy lewe vir sy skape aflê nie – die herder sal altyd sy eie lewe bo die lewe van sy skape kies. Die mense wat hierdie woorde van Jesus gehoor het, sou waarskynlik geskok wees hieroor, want dit is nie wat ’n tipiese herder sou doen nie.
Maar dit is juis die punt wat Jesus maak. Hy, die goeie Herder, is bereid om alles te gee vir sy skape. Die metafoor van ’n herder word dikwels gebruik om na ’n leier te verwys. Jesus maak dit duidelik dat, in die koninkryk van God, leierskap oor opoffering gaan. Hierin stap Hy eerste die pad van die Kruis en nooi ons om ons kruis op te tel en Hom te volg.
Ons lewe in ’n wêreld waar ons altyd meer verwag. Mag ons leer om al hoe meer op te offer.
Want, soos Jesus ons herinner, “wie sy lewe wil behou, sal dit verloor; maar wie sy lewe ter wille van My verloor, sal dit terugkry.”
Gebed
Here, in u koninkryk gaan dit nie oor wie die beste is, of wie die meeste het nie. In die hart van die koninkryk leef die opoffering van die kruis. Dit vra van ons om in die teenoorgestelde rigting as die wêreld op pad te wees. Dit is vir ons moeilik. Here, gee ons die moed om ons lewens op te offer ter wille van U, sodat ons dit ook mag terugkry.
Amen.