Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Oktober 2023

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam met jou te kuier. Ons gaan deur ’n paar Bybelverhale wandel. Jy sal hulle almal onthou uit jou kinderdae of jy sal hulle onthou soos jy dit vir jou kinders voorgelees het.

Lees Exodus 2-3: Die verhaal van Moses

Exodus 2:3

Langer kon sy hom nie wegsteek nie. Daarom het sy vir hom ‘n biesiemandjie gekry en dit met klei en pik dig gemaak. Sy het die seuntjie daarin neergelê en dit tussen die riete aan die kant van die Nyl gesit.

GEDAGTE

Die verhaal van Moses speel af gedurende ‘n tyd toe die Israeliete onder die bewind van die Egiptiese Farao geleef het. Uit vrees vir die vinnige groei van die Israelitiese bevolking, het die Farao ‘n bevel uitgevaardig dat alle pasgebore Hebreeuse seuns doodgemaak moes word (Eksodus 1:15-16). Dit was ‘n desperate en wrede poging deur die Egiptiese heerser om die Israelitiese bevolking te beheer en enige moontlike opstand te voorkom.

Hoe subtiel is God se reaksie nie op die farao se brutaliteit nie?  Onder die neus van farao se volk word ’n kind gebore wat die leier sal word van die onkeerbare trek uit Egipte na die land van belofte.  Ironies genoeg word hy deur die farao self se dogter groot gemaak, ná sy ma toegelaat is om hom te speen en toe het hy saam met die faro se kinders in die paleis gewoon.

Deur Moses in die mandjie te plaas, het Jochebed haar vertroue in God gestel om haar seun te beskerm en te lei. Hierdie geloofsdaad weerspieël die onwrikbare oortuiging dat God hulle nie in hul tyd van nood sal verlaat nie. Wat ‘n groot geloofstap moes dit nie gewees het nie.

God is almagtig, maar Hy werk nie alleen nie. God is teenwoordig in ons lewens en in ons swaarkry. Dikwels vra hy ons om daardie eerste geloofstap te neem.

Mag jy opnuut luister na waar God jou roep, mag jy sien waar jy gered word, mag jy raaksien wanneer jy voor ’n brandende bos staan en mag jy antwoord wanneer God jou stuur.

GEBED

Here gee my die moed om daardie eerste stap in geloof te neem. Amen