Gedagte vir die dag | Donderdag 5 November 2020

Matteus 19:23-27.  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”

Dit is opmerklik dat Jesus homself  verskeie kere in die Bybel sterk teenoor mense wat ryk is,  uitgespreek het. Dit het selfs die dissipels geweldig ontstel. Wat rakende rykdom het Jesus dan so diep gegrief?  Dit het waarskynlik te doen met die realiteit dat geld en sukses maklik kunsmatige en vals ruimtes skep waarbinne mense tuiskom. Dit dien nie die belange van God se koninkryk, wat veel wyer strek nie. Nou is die uitdagende vraag: Praat Jesus hier met my? Jesus roep ons tot ’n matige en dankbare lewe.  Wanneer is genoeg, genoeg en hoe praat die Here met jou in hierdie teks?  Ons bid dikwels baie vinnig die volgende gebed rondom die etenstafel, “en Here wees met die mense wat minder bevoorreg is”. Ons bid dat die Here by die wat minder bevoorreg is sal wees, maar God het ons in hulle midde geplaas om self daar te wees. Wat ons elkeen se verantwoordelikheid is, moet ons daagliks vir onsself uitmaak.

Gebed (liedboek 528)

Leer my U wil Heer, u plan vir my; laat ek nie doelloos, nutteloos bly. Hou my erkentlik, Heer in U werk. As ek dan swak is, maak U my sterk. U gee u gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met u Gees my, breekbare kruik, dat U my orals nuttig gebruik.