Gedagte vir die dag | Donderdag 4 Februarie 2021

Filippense 3:13-14.  Broers, ek verbeel my nie dat ek dit alles al het nie. Maar een ding doen ek: ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom, sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.

Terwyl Paulus hier in die tronk sit, is hy besig om sy lewe in oënskou te neem en te besluit wat belangrik is om saam met hom te neem en wat onbelangrik is. Hy kyk as’tware na die bagasie van sy lewe en besluit wat gelos kan word en wat belangrik is om te hou.

Dit is duidelik dat daar in Paulus se lewe ’n herwaardering van sake is. Daarom skryf hy met soveel oortuiging. Wat vroeër vir my belangrik was, en nou onnodige bagasie is, los hy nou agter.  Wat vroeër vir hom sin gegee het, het nou in onsin verander.  En die rede daarvoor is glashelder.  Dit is Christus wat die verskil in sy lewe gemaak het. Omdat Christus ’n nuwe sin, ’n nuwe waardestelsel en ’n nuwe koers in sy lewe gebring het, het hy sekere waardelose dinge agter gelaat. Wat het Paulus daarmee bedoel?

Paulus sê eenvoudig dat vandat hy Jesus ontdek het, is sekere dinge nie meer vir hom so belangrik nie. Die dinge waarna Paulus vroeër verwys het – goeie familie, uiterlike verbintenisse en toewyding, is nie opsigself waardeloos nie, maar dit vervaag in belangrikheid wanneer dit teenoor Christus Jesus te staan kom. Daarom skryf Paulus in verse 13-14: “Ek maak my los van wat agter is en strek my uit na wat voor is. Ek span my in om by die wenstreep te kom sodat ek die hemelse prys kan behaal waartoe God my geroep het in Christus Jesus.”

Wat is die dinge wat ons so onnodig saam met ons sleep wat die lewe vir ons so ondraaglik maak.  Waaraan dra jy so swaar?  Wat is die dinge wat jy liewer moet laat staan, omrede dit jou lewensreis net moeiliker en onsmaaklik maak?  Is dit dalk skuldgevoelens, bitterheid, bekommernisse, teleurstellings, verwerping, haat, afguns, swak selfbeeld, of onsekerheid?  Kom ons volg Paulus se voorbeeld en los dit agter. Kom ons maak ons los daarvan en lewe ligter in die teenwoordigheid van Jesus Christus.

GEBED

Here ek stap soms die lewenspad met ’n swaar tas vol skuldgevoelens, teleurstellings, haat, afguns en onsekerheid. Vergewe my asseblief hiervoor. Maak my los daarvan. Ek wil ligter lewe en die wenstreep behaal. Amen