Gedagte vir die dag | Donderdag 30 September 2021

2 Korintiers 12:9.  Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.

In tye van swaarkry en beproewings vra ons soms: Waarom en Hoekom? Ons verstaan nie altyd hoekom slegte dinge met ons gebeur nie, hoewel ons glo dat God met alles ’n doel het.

Behalwe vir die doring in die vlees, wat ons nie presies weet wat dit was nie, vertel die boek Korintiërs van die pyn wat Paulus beleef het, toe hy hierdie boek geskryf het. Hy was bedreig en aangeval deur vyande. Sy integriteit is bevraagteken, sy eerlikheid is betwis, sy gesag is uitgedaag en sy prediking is verwerp – en dit alles deur vals leraars wat na die kerk in Korinte gekom het met een doelwit, naamlik om valshede te verkondig.

Behalwe hiervoor het Paulus in sy bediening ook nog baie ander ontberings deurgemaak.

Ons lees daarvan in 2 Korintiërs 11. Hy was verskeie kere in die tronk waar hy geslaan en gemartel is.  Hy was dikwels in doodsgevaar – vyf keer is hy die gebruiklike straf van nege en dertig houe toegedien, drie keer het hy lyfstraf ontvang en een hy is selfs by een geleentheid met klippe gegooi. Hy het drie kere skipbreuk gely en het selfs ’n dag en ’n nag op die oop see deurgebring. Daar was vir hom dikwels nagte sonder slaap, honger, dors en vele nagte sonder skuiling of bedekking teen die koue. Boonop was hy ook daagliks bekommerd en besorg oor al die gemeentes.

Wat egter uitstaan in Paulus se bediening is dat hy al hierdie uitdagings altyd na God geneem het.  Dit is die antwoord wat Paulus in 2 Korintiërs 12:9 kry: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” God het geantwoord, maar God se antwoord was nie om die pyn weg te neem of die die swaarkry te verlig nie, maar om sy  genade meer te maak.

GEBED

Here, help my asseblief om my las te dra.

AMEN