Gedagte vir die dag | Donderdag 3 November 2022

Genesis 2:1-3. 1Die hemel en alles daarin is voltooi en ook die aarde en alles daarop. 2Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het. 3Hy het die sewende dag as gereelde rusdag geheilig, want op daardie dag het Hy gerus na al die skeppingswerk wat Hy gedoen het. 

Rus is van die begin af deur God in die ritme van die Skepping ingebou. Die Sabbat is die hoogtepunt van die skeppingsverhaal in Genesis. ’n Mens sou kon wonder hoekom God gerus het op die sewende dag? Dit sal vreemd wees om te dink dat God moeg was en rus nodig gehad het. Dalk moet ons raaksien dat God, in die skepping van die sewende dag, rus ’n integrale deel van die Skepping maak. God nooi ons uit om deel te neem aan die ritme van deelname aan sy kreatiewe skeppingswerk in die eerste ses dae en rus op die sewende dag. 

Walter Brueggemann skryf God “is a Sabbath-keeping God, which fact ensures that restfulness and not restlessness is at the center of life.” 

God self onderhou die Sabbat om ons in te nooi in ’n lewe wat rondom rus gesentreer is, eerder as rusteloosheid. 

Die Sabbat is nie veronderstel om ’n dag te wees waar jy herstel van die uitputting van die eerste 6 dae nie. Dit is nie ’n dag waar jy vir ’n oomblik asem skep voordat jy weer jou kop onder die water druk nie. Die Sabbat is die vertrekpunt, waaruit ons leef. Die ritme van die Skepping nooi ons uit om vanuit ’n plek van rus te leef en vanuit rus deel te neem aan God se kreatiewe skeppingswerk.  

Wat beteken dit vir jou om vanuit ’n plek van rus te leef? Is dit hoe jou lewe, of die samelewing lyk? 

Mag die Here jou vandag herinner dat Hy nie ’n God van rusteloosheid is nie, maar van rus, en mag jy vandag rus vind in Hom. 

Gebed 

Here, U het die hele Skepping rondom ’n ritme van rus geskep. So dikwels lei ons rustelose lewens, waar ons net elke nou en dan opkom vir asem. Help ons om vandag rus te vind in U en vanuit hierdie rus te lewe. 

Amen.