Filippense 4:4. “Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly! Wees inskiklik teenoor alle mense. Die Here is naby. Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en smeking en met danksegging aan God bekend. En die vrede van God wat alle verstand te bowe gaan, sal oor julle harte en gedagtes die wag hou in Christus Jesus”.
Dis storietyd!
Ons het gister genoem dat ons aan hand van die boek: “Stories van die lewe”, ’n paar stories met mekaar wil deel. Ek sal poog om dit elke keer vas te maak aan ‘n bepaalde teksgedeelte, sodat dit vir ons nog meer van waarde kan wees.
Toe mense eendag ’n wyse man vra hoe ’n mens ’n storie moet vertel, het hy geantwoord: “’n Storie moet so vertel word, dat dit insig en selfs hulp verleen aan dié wat dit hoor, en aan dié wat dit vertel. My oupa was lam”, vertel die man toe verder. “Eendag het mense hom gevra om te vertel van sy held, Baal Sjem Tov. My oupa begin toe vol geesdrif vertel hoe die Baal altyd rondgespring en gedans het as hy baie ernstig gebid het. Terwyl my bedlêende oupa so van sy held vertel, het hy uit sy bed opgestaan. Meegevoer met sy vertelling het hy self begin rondspring om te wys presies hoe Baal Sjem gemaak het. Dit is hoe ’n mens ’n storie moet vertel.”
Van die beste tye wat ek met my kleinkinders persoonlik het, is die tye wat ek stories aan hulle vertel. Partykeer raak ek self meer opgewonde oor die storie (wat ek maar so paragraaf na paragraaf uitdink terwyl ek dit vir hulle vertel) as die kinders self. Ek sien iets van hierdie verligting wat ’n storie kan meebring, in die teksgedeelte van vandag. En hoe jy deur ’n storie te deel, in watter vorm ook al, ook in gebed, of in gesprek met geesgenote die vrede daardeur ervaar. Dit is ’n vrede wat van God af kom, wat al ons verstand te bowe gaan en in ons gedagtes die wag hou in Jesus Christus.
Besluit sommer vandag vir wie jy ’n mooi storie kan vertel. Dalk vir jou kind, of kleinkind, of ‘n vriendin, of iemand in ’n ouetehuis of hospitaal.
“Al wat ons regtig gelukkig sal maak, wat ons sal genees van ons negatiwiteit, is iets waaroor ons regtig opgewonde kan raak” – Charles Kingsley
Gebed
Here, leer my opnuut om stories te vertel wat ander, sowel as myself, vrede sal bring.
Amen.
Ds. Why Duvenhage