Romeine 12:9: “Die liefde moet opreg wees.”
Die eerste riglyn wat ons in hierdie week oordink, gaan oor die grootste opdrag volgens Jesus en ook die grootste gawe volgens Paulus en dit is die liefde! Ons kan nie oor die Evangelie van Jesus Christus dink en praat as ons nie oor liefde dink en praat nie. Hy is immers die beligaming van hierdie grootste saak wat Sy Vader gedryf het om Hom na hierdie wêreld te stuur.
Dit is baie interessant dat Paulus dit ook in hierdie gedeelte as ’n belangrike riglyn of rigtingaanwyser van ons lewe deur gee – vir ons gedrag, houding en daaglikse verhoudings. Dit moet ten alle tye die toets van ware opregte liefde kan deurstaan.
Dit is baie betekenisvol dat Paulus die liefde hier kwalifiseer as opregte liefde. Ander Afrikaanse vertalings verwys hierna as “ongeveinsste liefde”. ’n Engelse vertaling verwys daarna as “sincere love.” Dit is nodig om liefde so te kwalifiseer aangesien liefde so maklik voorgegee kan word. Sogenaamde “fake or pretended love” – voorgee liefde. Dit is wanneer liefde voorgegee word, en nie regtig bestaan nie. Liefde wat vals is, oneg! Liefde met oneerlike motiewe, altyd met die vraag” “wat is daarin vir my?”
Selfliefde kan so maklik verwar word met Bybelse liefde. “Sincere love” is daarom ’n baie goeie beskrywing. Die woordjie “sincere” beteken eintlik oorspronklik “without wax.” Iets wat nie aangeplak of vals is nie. Dit kom uit tradisie van pottebakkery waar gebreekte potte of potte met krake met “wax”(byewas) reggemaak is en krakge toegeplak is. Dit is dan geverf en voorgesit as ’n goeie, heel pot om te verkoop. Mense het baie gou agtergekom dat dit vals is, of met byewas reg gemaak is en nie die oorspronklike produk was nie. Paulus se verduideliking is dan dat ons met liefde “without wax”, eg en onvervals, moet wees.
Deurstaan jou liefde die toets van opregtheid?
Gebed:
Here, help my dat my liefde elke dag opreg sal wees. Amen