Jakobus 4:3. “As julle bid, ontvang julle nie, omdat julle verkeerd bid: julle wil net julle selfsugtige begeertes bevredig.”
Dit is natuurlik dat ons ons alledaagse behoeftes in ons gebede verwoord. Jy kan met vrymoedigheid na die Here gaan en vir Hom vra, maar ons moet altyd bewus wees van die slaggat van selfgerigtheid. Ons eie behoeftes en die emosies wat daarmee saamloop het die vermoë om ons vas te vang en laat ons in sirkels bid vir die uitkomste wat ons vir ons self in gedagte het. Hoe bid ’n mens dan “reg” soos ons teksgedeelte vra? Dit is nie so moeilik soos ons dink nie. Dit gaan waarskynlik glad nie oor die woorde wat ons formuleer nie. Stort jou hart openlik voor die Here uit en moenie bang wees om die verkeerde woorde te gebruik nie, maar laat daarin ruimte om ook te luister. Neem tyd om vandag in jou gebed in blote stilte op God te fokus en laat God toe om jou ook te wys. Baie keer verg dit nie dat ons toe oë, soos wanneer ons bid, na Hom luister nie, maar juis in die oomblikke wanneer jy in stilte die mense en wêreld om jou aanskou en die Here dit op ’n nuwe manier aan jou wys.
Gebed
Here, lê ’n smaak vir gebed op my tong, en laat my lippe dan ’n banket van lof vir U berei. En mag hierdie feesmaal, – wanneer ek dit eers een keer geproe het – my voed, maar nooit versadig nie, sodat ek altyd weer na gesprek met U sal verlang (Ralph W. Seager).