Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Junie 2023

Hebreërs 4: 12. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring deur selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg. Dit beoordeel die bedoelings en gedagtes van die hart.

Die Bybel soos ons dit vandag ken was nog in die proses om saamgestel te word toe die brief aan die Hebreërs aan ‘n nuwe generasie gelowiges geskryf is. Hulle was egter in besit van ‘n baie ou geskrewe tradisie wat getuig het hoe God hulle voorgeslagte gelei het. Hierdie teks is die getuienis van hoe dieselfde Here by hulle was en die wyse waarop dit tot hulle deurgedring het.

Wanneer ons amper na tweeduisend jaar weer hierdie getuienis hoor wat in die Bybel beskryf staan, gaan dit oor veel meer as net woorde in ‘n boek wat ons glo. Dit is die lewende getuienis van God wat tot mense deurgedring het en hulle kom vernuwe het. Mag jy ervaar hoe die Here weer vandag op hierdie wyse in en om jou lewe getuig en hoe dit op ‘n besondere wyse tot jou deurdring.

Gebed

Here, gee my u vrede al gaan die kwaliteit daarvan my verstand te bowe. Mag dié wonder van vrede my hart op U ingestel hou. Mag dit my gedagtes vul met positiewe dinge: met dit wat waar en edel en reg is. Laat my dink aan die dinge wat rein en lofwaardig is. Gee my u vrede, en laat dit altyd by my bly.

Amen.