Matteus 25:36b: “En toe ek nie iets gehad het om aan te trek nie, het jy vir my klere gegee.”
Die oorsake van die onlangse plundering is velerlei. Ek het verlede Sondag gepreek en onder andere verwys na die vonk en die kruit wat die staat omver wou werp, en die oppurtuniste wat sommer net toegeslaan het. Maar dan ook die groot stroom kritiek en ook die moontlike oorsake soos: armoede en honger mense wat net desperaat is om items in die hande te kry. Mense wat televisiestelle steel is nie noodwendig honger nie, maar die realiteit van armoede en honger in ons land is ’n groot werklikheid.
Ek het gedink aan die verhaal, waar vertel word hoe ’n bedelaar sy hande uitgesteek het na ’n sekere heilige man, genaamd Martin. “Asseblief meneer dis bitter koud en ek het nie klere om aan te trek nie, kan u my asseblief help, voor ek van die koue sterf,” het hy vir Martin gesê. Martin het blykbaar afgekyk na sy eie dik wol jas, en gesê: “Ek het nie nog ’n warm wol jas nie, maar ek sal jou die helfte van hierdie een gee.” En blykbaar die daad by die woord gevoeg. Hoe presies weet ek nie, of hy dit nou in die middel deurgesny het is ek nie seker nie.
’n Hele paar dae het verby gegaan en telkens wanneer Martin gebibber het in die koue, het hy gewonder of dit verstandig was om die helfte van sy warm jas weg te gee. En toe droom hy een nag dat hy in die hemel is. Tussen baie gesigte het hy ook vir Jesus gesien. Jesus het ’n halwe jas oor sy skouers gehad. “Meester, waar kry U hierdie jas?” het Martin nuuskierig gevra. “Ek het hierdie jas by Martin gekry, hy het die helfte van sy warm jas vir My gegee,” het Jesus geantwoord. Toe onthou Martin die bekende woorde van Jesus uit Matteus 25:36: “Ek was sonder klere, en julle het vir my klere gegee. Sover julle dit aan die geringste broers vir my gegee het, het julle dit aan my gedoen.”
Ek was onlangs in die Oos-Kaap, en dit maak ’n mens soms moedeloos wanneer jy sien hoe mense swaar kry. Ons het verby gebiede gery waar mense sonder kos en klere is. En hulle kry koud in die winter. Dit gryp ’n mens aan die hart om te sien hoe talle mense werk soek, werkloos is en hoe tente ook in Durbanville opgeslaan word. Daar is gesinne wat dikwels sonder kos is, en honger gaan slaap. Daar word gesê dat die huidige nood tans groter is as in die Groot Depressie en ons is bewus van hoe dit toegeneem het. Die regering het onlangs weer die R350 ingestel om mense te help in nood.
Onthou wat het dr. Anton Rupert gesê: “Hoe kan ek rustig slaap, as my buurman vanaand honger gaan slaap?” Hoe ons dit gaan oplos, weet ek nie? Daar is ongeveer 40 dames in die gemeente wat sop by hulle huise kook omrede hulle nie tans by die kerk kan bymekaar kom nie. Ons kan as organisasie by plekke help en betrokke wees en daar is so baie plekke om by in te skakel. Ons sê vir julle dankie dat julle bydrae in ’n poging om die nood aan te spreek. Op een of ander manier is byna elkeen van ons betrokke, of bewus van iemand wat minderbevoorreg is en wat baie minder as jy het. Miskien sukkel jy om met jou geld uit te kom, maar miskien kan jy wel iets afknyp, en sê hier is my gedeelte om nood aan te spreek. Martin het die helfte van sy jas vir iemand gegee. Dit sal vreeslik wees as ons eendag by Jesus hoor, “ek was honger, en jy het my nie iets gegee om te eet nie. Ek was sonder klere, en jy het nie vir my nie iets gegee om aan te trek nie.”
Gebed
Here, gee vir ons die genade en insig om te weet waar ons met ons oop hande moet lewe, elkeen in sy eie omstandighede.
Amen.