Gedagte vir die dag | Donderdag 29 Desember 2022

Psalm 146:5-9. “Dit gaan goed met die mens wat sy hulp van die God van Jakob ontvang, die mens wie se hoop gevestig is op die Here, sy God. Die Here het die hemel en die aarde gemaak, die see en alles daarin. Hy bly vir altyd getrou, 7Hy laat reg geskied aan verdruktes en gee brood aan dié wat honger ly. Die Here bevry die gevangenes,8 die Here laat blindes sien, Hy ondersteun dié wat bedruk is. Die Here het die regverdiges lief. 9Hy beskerm vreemdelinge en help weeskinders en weduwees, maar Hy versper die pad vir die goddeloses.”

GEDAGTE

Let op die tien beskrywings van God se karakter in vers 6-9. Skryf dit op ’n kaartjie neer en herinner jouself deur die dag daaraan dat dit dié God is wat jou God is: “Hoe gelukkig is jy . . .!

  • Die Here bly trou tot in ewigheid,
  • Die Here handhaaf die reg van verdruktes,
  • Die Here gee aan hongeres brood,
  • Die Here bevry gevangenes,
  • Die Here maak blindes se oë oop,
  • Die Here rig dié op wat terneergedruk is,
  • Die Here het regverdiges lief,
  • Die Here beskerm vreemdelinge,
  • Die Here help vaderloses en weduwees op,
  • Die Here maak die pad van goddeloses krom.

Dit is soos die Tien Gebooie van God se karakter.  Jy kan regtig daarop vertrou en dit in gebed as ’n lofprysing aan God gebruik.

 

GEBED

Ons gebed vandag is die ou beryming van Psalm 146:

Prys die HEER met blye galme,o my siel, daar ‘s ryke stof!

‘k Sal, solank ek leef, my psalme vrolik toewy aan sy lof

en Hom, wat sy guns my bied, altyd groot maak in my lied.