Gedagte vir die dag | Donderdag 28 Oktober 2021

1 Petrus 1:16. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig”.

Waartoe moedig die Here ons aan wanneer hy vra dat ons heilig moet lewe?

’n Mens kan dink dat die Here van ons verwag om perfekte lewens te lei – wat tog onmoontlik is. Godsdiens kan in hierdie opsig streng en onvergeeflik raak, omdat daar net altyd “onheilige” goed is wat ons met afgryse in ander kan uitwys. En dan is daar ook die skuldgevoel oor onheilige goed wat stilweg en in die loop van ’n lewe in jou ophoop. So ’n ingesteldheid kan maklik ’n mens se geestelike en kerklike lewe oorneem.

Wanneer Petrus die teks begin om ons te waarsku om verstandelik wakker en nugter te wees, gaan dit oor iets anders as die strewe na ’n perfekte lewe en die uitwys van spesifieke onheilighede. Dit is eerder ’n oproep tot heiligmaking. Dit wil ons herinner dat, danksy die genade van God, ons deur ons en ander mense se foute leer, groei en verander. Heiligheid sonder ons nie van ’n bose en slegte wêreld af nie. Dit is immer tog ook deel van die Here se skepping. Dit wil ons eerder inspireer tot ’n leefwyse van insig en verandering waarin ons ervaar dat die Here dit wat seer en gebreek is kom heel- en mooimaak.  Mag “om heilig te leef” jou vandag inspireer tot ’n toewyding wat nie net sondes uitwys nie, maar eerder ’n wysheid en fyn aanvoeling om die lewe te verander.

Gebed 

Here, skep in my die wil om U te soek. Draai my om sodat ek in U rigting sal kyk. Ek bly voortdurend bewus dat U my nie in my onheiligheid verlaat nie. Ek weet dat U wat my gemaak het my telkens weer kan oormaak. Vorm my voortdurend Here. Gee my die insig en die wysheid om hierdie hede te kan beoordeel en nie sommer impulsief ander te beoordeel of te veroordeel nie. Wys my die weg wat ek met ander moet stap.

AMEN.