Johannes 1:15-17. “Johannes getuig van Hom en roep uit: Dit is Hy wat ek bedoel toe ek gesê het: Hy wat ná my kom. Is my vóór, want Hy was voor my reeds daar. Uit sy oorvloed het ons almal genade op genade ontvang. God het die wet deur Moses gegee; die genade en die waarheid het deur Jesus Christus gekom.
Die gelowiges teenoor wie Johannes getuig het was baie opgewonde omdat hulle geleef het in die verwagting dat die tyd ryp was vir God om iets nuut in hulle lewe en wêreld te doen. Maar Johannes se reaksie was tot ’n mate ontnugterend. Sy boodskap was dat God verskyn, nie net om later weer te verdwyn nie. Hy was nog altyd deur alles in die verlede by ons. Uit sy oorvloed HET (verlede tyd) ons ALMAL reeds al genade op genade ontvang. Mag hierdie kragtige boodskap vir jou vandag op ’n nuwe manier laat kyk na die realiteite wat tans om jou afspeel. Ons hoop is nie alleen op ’n uitkoms iewers in die toekoms nie, maar op die getrouheid van God wat vandag van ons besit neem en ons die toekoms in dra.
Gebed
Here, laat ek vandag rus vind in u genade eerder as in gesondheid, eer, status, mag, kennis of vernuf. Skenk my om vandag hierdie rus te vind bo enige aardse rykdom en vreugde. Bo alles wat U my kan gee, begeer ek hierdie vrede bo alles. God, Skepper van alle sienlike en onsienlike dinge, in U alleen vind my hart vandag sy diepste rus.