Vandag is Donderdag 28 April en ons gaan die volgende sewe dae deur middel van ’n #StaanSaam-reeks reflekteer oor wat dit beteken om aan mekaar te behoort.
Vandag is ons tema: Leef met vreugde.
Die belangrikste ding wat jy moet weet van blydskap is dat dit nie gekoppel is aan ’n spesifieke gebeurtenis nie. Ware geluk kom nie van buite af nie, maar van binne. Ek wil graag hê dat jy na jou eie lewe moet kyk en nadink of jy nie dalk kan doen met ekstra vreugde nie? Wat is vreugde en waar kan jy nog van dit vind? Indien jy ’n foto van vreugde kon neem, hoe sou dit lyk?
Wanneer jy die Bybel lees besef jy gou dat dit vol sketse van blydskap is. Neem Galasiërs 5:25 wat praat oor die vrug van die Gees en hoe blydskap deel is van hierdie pakket. In Filippense 4:4 wil Paulus ons aanmoedig om ons altyd in die Here te verbly. Ons moet bly wees oor die feit dat ons in Christus is en Hy in ons. Is God vir jou die vreugdevolste persoon in die heelal, of is dit vir jou moeilik om jou in te dink dat Hy ’n vreugdevolle, dansende God is?
In Sefanja lees ons dat Hy homself oor jou met blydskap verheug. Hy swyg in Sy liefde, Hy juig oor jou met ’n gejubel. As jy die rede kan vind hoekom God so bly is oor jou, dan kan jy ook soveel blydskap daarin vind. God is bly oor hoe Hy jou geskep het. Hy staan in verwondering oor jou en daar is vreugde wat in Hom opkom as Hy aan jou dink, want jy is syne. Hy is die bron van alle blydskap!
Staan vandag saam en leef met vreugde. Skoffel in die tuin, maak jou hande vuil en staan in verwondering oor God se skepping. Staan saam en leef met vreugde!