Die volgende paar dae gaan ons by ’n paar vroue van die Bybel kuier. Kom reis saam met my en hoor wat die Here ook deur hulle verhale vir ons wil leer.
Teks: Rigters 4:4-5. In daardie tyd was Debora, die vrou van Lappidot, die leier van die Israeliete. Sy was ‘n profetes. 5Sy het altyd onder die Deborapalm in die Efraimsberge tussen Rama en Bet-El gesit, en die Israeliete het daarheen gekom sodat sy hulle geskille kon bylê.
GEDAGTE
In ’n donker tyd in Israel se geskiedenis was Debora ’n ligbaken van vertroue in God se mag om te red en ’n herinnering aan Sy verbondsliefde. In Joshua se tyd het die volk die een oorwinning na die ander beleef, maar in die tyd van die Rigters was dit die een neerlaag op die ander. God het beproewings gebruik om hulle na Hom terug te roep. Juis in hierdie slegte tyd roep die Here vir Debora om as leier en profetes van die volk op te tree. God gebruik Debora om boodskappe na Sy volk te stuur. Daar is drie redes hoekom God Debora as leier van die volk gekies het. Hy het haar gekies oor haar swakheid, haar getrouheid en haar beskikbaarheid. Daar was niks wat sy op daardie stadium aan die volk se situasie kon doen nie. Maar te midde van haar eie swakheid het God haar versterk om haar volk te bemoedig en te lei. Debora was ’n vrou wat getrou was aan haar volk en haar God. Sy het die wil van God respekteer en was ook beskikbaar om deur God gebruik te word.
Debora het haar volk getrou as rigter gedien: as oplosser van probleme, as hersteller van verhoudings en as raadgewer. Deur Debora sien ons dat God ons ook wil gebruik, maar ons moet verstaan dat dit volgens God se riglyne moet gebeur. So kan God ons dan op ’n sekere manier gebruik. Die vraag is net of ek getrou en beskikbaar is? Waar en hoe wil die Here jou gebruik?
GEBED
Hemelse God en Vader, hier is ek. Gebruik my in U koninkryk en tot die eer van U Naam. Amen