Gedagte vir die dag | Donderdag 27 Januarie 2022

 

Romeine 8: Ons is immers gered, en ons het nou hierdie hoop. Wat ‘n mens al sien, hoop jy tog nie meer nie. Wie hoop nog op wat hy reeds sien? 25Maar as ons hoop op wat ons nie sien nie, wag ons daarop met volharding.

Die bekende teoloog Dirkie Smit het op ‘n stadium geskryf dat Hoop is die vertroue dat dit nie te laat is nie. Dat ons sorge gestil, ons vrese besweer, ons teleurstellings omskep kan word – ook al voel dit nie noodwendig so nie. Dat duister kan plek maak vir lig. Dat dinge wel nuut kan word, alles verander – al lyk dit tans hoe onmoontlik.

Daarom is die evangelie ‘n blye tyding van hoop, teen alle ellende en moedeloosheid in. Maar dit beteken vasklou aan wat ons nog nie sien nie.  Hoop teen alle hoop soos Paulus skryf.  Dit is nie blote optimisme nie – die gevoel dat dinge net kan beter word. Dit is die vertroue dat dit nooit te laat is nie, selfs in die donkerste nag, of tydens die diepste leed. Dis hoop.

 

In Epifanie word ons weer uitgenooi om dit te sien wat vandag nog onsienlik is. Om vandag ‘n huis te bou op beloftes waarvan die waarheid eers later sal blyk.  Epifanie nooi ons uit om daarvolgens te handel – teen alle sigbare ellende in, teen gruwelike misdaad en sinlose geweld, teen swaarkry, siekte en dood.

 

Amen