Habakuk 3:19. Die oppermagtige Here is my krag! Hy maak my voete soos dié van ’n ribbok; op hoë plekke laat Hy my veilig loop.
Ons word deesdae oorval met slegte nuus. Elke dag hoor ons van misdaad, korrupsie en verval. Dan is daar nog die gewone uitdagings ook wat ons daagliks in ons lewens ervaar. Hoe kry ’n mens dit reg om aan te hou lewe, ten spyte van al hierdie slegte nuus.
Die profeet Habakuk moes ook ’n klomp slegte nuus op sy dag hanteer. Die ergste is dat hy selfs beleef het dat God teen die volk gedraai het as gevolg van hulle sonde. Wat doen Habakuk tydens hierdie uitdagende tyd? Hy gaan na die Here en hy stort sy hart uit voor die Here.
Hoe vind ’n mens weer vastrapplek in die lewe as die mat onder jou uitgeruk word. Die uitdagings van die lewe gaan nie weg deur dit net te ignoreer nie. Om in sak en as te gaan sit gaan nie regtig help nie. Ons kan wel Habakuk se voorbeeld volg en op die uitkyktoring gaan staan en met die Here daaroor praat. Dit is juis dan ook Paulus wat skryf in Fil. 4:6: “Moet oor niks besorg wees nie, maar maak in alles julle begeertes deur gebed en met smeking en danksegging aan God beken.”
Bid, worstel, wag, want God sal antwoord. Al is dit net om jou krag te gee soos die van ’n ribbok om oor die hoë plekke te loop.
Habakuk kon in die Here jubel, want hy het geweet dat die Here hom op hoë plekke sou beskerm. Net so is die Here ook by ons as ons op hoë gevaarlike plekke moet loop. Hetsy dit siekte, dood, lyding, swaarkry, bekommernis, of teleurstellings is. Dit is die Here wat vir my en jou ’n stewige vastrapplek gee.
GEBED
Here Jesus, U wat swaarkry ken, wees met elkeen van U kinders, omvou hulle met U liefdevolle teenwoordigheid. Voorsien asb in elkeen se behoeftes, en herstel hulle omstandigheide, net U alleen ken elke huis se kruis.
Hulle wat nie werk het nie, ook nie kos het nie, die wat nie ‘n dak oor hulle kop het nie. Elkeen wat ly agv van eensaamheid of siekte.
Raak hulle aan en laat goedheid en guns hulle volg al die dae van hulle lewe.
Maak van ons ‘n dankbare vreugdevolle mense, ten spyte van alles wat ons in hierdie lewe op aarde moet deurgaan.
Laat elkeen vandag rustig raak Here, en laat ons nooit ophou om U te vertrou nie.
Amen