Gedagte vir die dag | Donderdag 25 Mei 2023

 

1 Petrus 1:13. Wees daarom verstandelik wakker en nugter, en vestig julle hoop volkome op die genade wat julle deel sal word by die wederkoms van Jesus Christus. Soos wat Hy julle geroep het, heilig is, moet julle ook in julle hele lewenswandel heilig wees. Daar staan immers geskrywe: “Wees heilig, want Ek is heilig”.

Dit het so maklik geraak om in die spanning waarin ons elke dag leef toe te laat dat emosies oor ons beheer uitoefen. Om in vergaderings, gesprekke en onderhandelings met mense toe te laat dat juis die emosies die laaste sê het. In ons teksgedeelte praat Petrus met ons oor ’n heilige lewe. Ons koppel dikwels heilig wees aan ‘n lewe wat nougeset godsdienstige beginsels volg en wat ons onderskei van ander of die wêreld wat “onheilig” is, maar die heilige lewenswyse waartoe Petrus ons aanspoor, is anders. Dit vra vir ons om verstandelik nugter en wakker te wees. Die God wat alles geskape het laat dit reën oor die wat reg en verkeerd doen. Mag die Here se groot genade in elke oomblik van ons lewens deurbreek om te vind dat elke gesprek, vergadering en ontmoeting met mense ’n heilige oomblik is.

Gebed

Here, U wat die wêreld deur liefde en genade transformeer, kom omvorm hierdie dag waarin ek leef in ‘n heilige oomblik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld as ’n plek van korrupsie, lyding en verganklikheid te help transformeer tot ‘n gebied waar U lig, vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede.