Gedagte vir die dag | Donderdag 24 November 2022

2 Korintiers 4:16-17. “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe. 17Ons swaarkry in hierdie lewe is maar gering en gaan verby, maar dit loop vir ons uit op ‘n heerlikheid wat alles verreweg oortref en wat ewig bly.”

Om ’n dissipel van Christus te wees is geen waarborg dat jou lewe vry van bekommernis en probleme sal wees nie. Van die grootste geloofshelde het met probleme te kampe gehad nadat hulle trou aan God beloof het.

Die manier hoe jy jou probleme hanteer is dikwles belangriker as die probleem self. Sommige sien hul probleme as struikelblokke terwyl ander dit weer as geleenthede sien om hulle verhouding met hulle hemelse Vader te versterk. Die Here het belowe dat Hy altyd daar is – in die moeilike tye en ook in die goeie tye. Om ons probleme na God te neem beteken nie noodwendig die oplossing is onmiddelik daar nie. Dit kan soms ’n tydjie neem voor die oplossing daar is.

Die spreekwoord lui: Die lewe is nie net maanskyn en rose nie. Daar is tye wanneer dit voel asof ’n mens nie meer verder kan nie, want die lewe het jou flenters geslaan en tye waar jy as’t ware platgeslaan op die vloer bly lê. Hoe dan gemaak? Is daar hoop? Moenie tou opgooi nie. Paulus leer ons vanoggend dat ons ten spyte van al die teenslae moet opstaan. Al voel dit so, dit is nie die einde van die wêreld nie.

GEBED

Liewe Here,
Ek erken dat ek gereeld vergeet dat U by my is.
Ek vergeet gereeld wie U is.
Vergewe my asseblief.
Help my om U Woord en U beloftes te ken.
Help my om U eerste op elke terrein van my lewe te plaas.
Help my om een dag op ‘n slag te leef.
Help my om my nie oor môre te bekommer nie, maar om eerder op U te fokus en wat U nou in my lewe doen.
Ek wil vertrou op U belofte om in al my behoeftes te voorsien – finansiële, verhoudings, fisiese, sosiale, geestelike en emosionele.
Help my om U meer te vertrou en minder te bekommer.
Ek bid in Jesus se Naam. Amen