Hebreërs 4:12. Die woord van God is lewend en kragtig. Dit is skerper as enige swaard met twee snykante en dring selfs tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg.
Dat die Bybel steeds vandag vir ons lewendig en kragtig is, is ’n gedagte wat maklik by ’n mens verby kan gaan. Oor jare het ons ’n verskeidenheid Bybels versamel wat iewers op ’n rak staan en waarvan ons uiteindelik net een gebruik. Hoe gereeld ons hierdie een Bybel gebruik is oon ’n ander vraag. Ons teksgedeelte moedig ons aan om in ’n gereelde ritme te kom om die Bybel te lees en om dit met ’n spesifieke ingesteldheid te benader. Wanneer ons tyd neem om die woorde daarvan te lees, die betekenis daarvan te oordink, en toe te laat dat dit ons gees en lewensomstandighede aanraak, dan verander iets binne ons. Dit is soos wanneer jy sukkel om te sien en ’n bril, verkyker, teleskoop of mikroskoop skielik vir jou ’n totaal ander perspektief op die beeld bring. Daar is egter geen ander manier om daarby uit te kom as om toe te laat dat die Bybel jou daarheen begelei nie. Lees jou Bybel en bid elke dag, want dit gee jou krag.
Gebed
Here, daar is vandag so baie dinge wat in my gedagtes rondmaal en take waarby ek moet uitkom. Dag vir dag sukkel ek om behoorlik by alles uit te kom en take af te handel. Dankie dat ons elke dag vir ’n oomblik deur middel van die Bybel en gebed alles wat vir ons voorlê in perspektief kan sien. Dat ek ontslae kan raak van die angstigheid en vrees wat in my leef en my siel kan bedaar om enige situasie te hanteer. Dit is vandag vir my wonderlik om te weet dat U teenwoordigheid my op hierdie manier omring.
Amen.