Gedagte vir die dag | Donderdag 24 Februarie 2022

Jeremia 18:5. Toe kom die woord van die Here tot my: Kan ek nie met julle doen wat hierdie pottebakker met die klein gedoen het nie, Israel? vra die Here. Soos klei in die hand van die pottebakker, so is julle in my hand, Israel.

Dit is nie vir ons vandag maklik om na die sosiale en politieke omgewing om ons te kyk en te dink dat die Here ook daardeur besig is om ons land en sy mense te vorm nie. Ek onthou goed die einste Februariemaand in die Paarl toe Nelson Mandela uit die Victor Verster gevangenis vrygelaat is. Ek was toe in matriek in die Paarl op skool en het op die besondere warm somersdag gesien hoe helikopters in die verte oor die gevangenis sirkel.  Alhoewel die naam Nelson Mandela bekend was, het min mense voor sy vrylating sy gesig gesien en die feit dat ‘n gevangene nou vry was het mense in my eie omgewing baie onrustig gemaak. Dit was ‘n angstige tyd en toe moes ons landsvlag en volkslied ook nog boonop verander. Ek dink vandag voel ons baie anders oor die verlede. Hoe presies die Here besig is om nasies te vorm sal ons nooit regtig kan verstaan nie. Ons begrip en insig daarvoor is te beperk. Daarby is ons by tye soos ’n stuk harde klei wat nie altyd gewillig is om gebrei te word nie.  Wanneer ons vandag weer na ons land se sosiale en politieke omgewing kyk is ’n mens geneig om op dieselfde manier as die verlede te reageer. Daarom die gebed – Here brei en vorm ons om in hierdie tyd van nut te wees.

Gebed

Seën ons Here God, seën Afrika.

Laat sy mag tot aan die Hemel reik,

Hoor ons as ons in gebede vra

Seën ons in Afrika

Kinders van Afrika.

Daal neer Gees,Heilge Gees kom woon in ons

Lei ons, O Heilige Gees

Lei ons, O Heilige Gees