Gedagte vir die dag | Donderdag 23 Junie 2022

Vir die volgende twee dae gaan ons saam oor die gedeelte in Johannes 3:1-8 reflekteer.

Daar was ‘n man met die naam Nikodemus. Hy het aan die party van die Fariseërs behoort en was ‘n lid van die Joodse Raad. 2Een nag het hy na Jesus toe gekom en vir Hom gesê: “Rabbi, ons weet dat u ’n leermeester is wat van God af gekom het, want niemand kan hierdie wondertekens doen wat u doen, as God nie by hom is nie.”  3Daarop sê Jesus vir hom: “Dít verseker Ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.” 4Nikodemus vra Hom toe: “Hoe kan ‘n mens gebore word as hy al ‘n ou man is? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in sy moeder se skoot kom en gebore word nie?” 5Jesus het geantwoord: “Dit verseker Ek jou: As iemand nie uit water en Gees gebore word nie, kan hy nie in die koninkryk van God kom nie. 6Wat uit die mens gebore is, is mens; en wat uit die Gees gebore is, is gees. 7Moenie verbaas wees dat Ek vir jou gesê het: Julle moet opnuut gebore word nie. 8Die wind waai waar hy wil. Jy hoor sy geluid, maar jy weet nie waar hy vandaan kom en waar hy heen gaan nie. So gebeur dit met elkeen wat uit die Gees gebore is.”

Moenie verbaas wees oor die werking van God se Gees nie, sê Jesus. Die wind waai waar hy wil. Ons hoor sy geluid, maar weet nie van waar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is dit met die Gees. Vir elke werk wat die Bybel aan die Pinkstergees toeskryf, geld dit. Op ’n dag besef ons net – dit gebeur. Dis in hierdie tyd wat gelowiges weer diep bewus word van God se Gees wat op soms onverklaarbare maniere in ons lewens teenwoordig is. Soms is dit in die terugkyk, in die onthou wat ons raaksien dat God wel by ons was. Dalk het ons dit net nie toe  besef nie, maar God se Gees is soos die wind, hy waai waar hy wil.

Dis in die onthou, het die antieke mense geglo, waar ons krag ontvang om vandag as ’n geskenk te beleef. Mag jy vandag tyd neem en terugkyk, onthou en reflekteer oor die oomblikke waar jy die teenwoordigheid van God se Gees ervaar het en so herontdek het dat God ook vandag by jou is.