Gedagte vir die dag | Donderdag 30 Junie 2022

 

Vandag is Donderdag, 30 Junie en ons is besig om na te dink oor die vrug van die Gees en hoe dit juis gestalte kan vind tydens hierdie Koninkrykstyd waarbinne ons in die kerklike jaar leef. Vandag kyk ons na liefde:

1 Joh 4:16: “En ons ken die liefde wat God vir ons het, en ons glo daarin.  God is liefde; wie in die liefde bly, bly in God en God bly in hom”.

Deur Jesus Christus is ons grootste doel om alles wat ons doen in liefde te doen. 1 Kor 13:4-8 sê dat die liefde geduldig is, die liefde vriendelik is; dit nie afgunstig is nie, nie grootpraterig is nie, nie verwaand nie. Dit handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie, is nie liggeraak nie, hou nie boek van die kwaad nie. Dit verbly hom nie oor onreg nie, maar verheug hom oor die waarheid. Dit bedek alles, glo alles, hoop alles, verdra alles.  Die liefde vergaan nooit nie”.  Wat ’n voorreg om hierdie bron van liefde te mag ken met al sy eienskappe.

Gebed

Vader, dankie dat U ons wys wat ware liefde is. Wys en leer my deur U liefde waar daar dinge in my lewe is wat nie in ooreenstemming met u Gees is nie. Vorm my in iemand wat ander liefhet net soos U my liefhet.

Amen.