Deuteronomium 6:4-5. “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die Here jou God liefhê met hart en siel , met al jou krag.”
Die Jode het wonderlike gebruike vir die uitlewing van hulle geloof. Een daarvan is ’n besonderse gebed wat hulle baie gereeld bid – die Shema. Die Shema kry ons in Deuteronomium 6:4-5 “Luister, Israel, die Here is ons God, Hy is die enigste Here. Daarom moet jy die die Here jou God liefhê met hart en siel, met al jou krag.” Die Jode het geglo as jy die Shema bid dan erken jy dat God die heerser van jou lewe is. Dan is geen gedagtes of gevoelens vir God meer weggesteek nie. Dan is jy verseker dat God die hele dag en nag oor jou die wag sal hou.
Wie is die Here vir jou? Is Hy jou God, die enigste Here? Die meeste Christene sal dit as ’n onnodige vraag beskou. Hulle weet immers dat die Here hulle God is. Maar soms is dit nodig om onsself weer te vra: “Hoe belangrik is God vir my in my lewe?” Is Hy nog soos die Jode van ouds bely het, jou enigste Here?
Enigiets groot of klein wat dreig om belangriker in jou lewe te wees, dui op gevaar. Daarom is dit nodig dat ek myself weer ondersoek en seker maak dat God steeds my eerste prioriteit is. En dat daar nie dinge in my lewe is wat my verhouding met Hom skade sal aandoen nie.
GEBED
Here ek wil vandag weer kom bely en erken dat U my Here en my God is. Ek het U oneindig lief en wil my hele lewe aan U toewy.
AMEN