Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Desember 2022

Goeiedag. Hierdie komende week is ons saam op reis na Kersdag, waar ons die geboorte van Jesus herdenk en nadink oor wat dit vir ons as gelowiges beteken. Vandag is Donderdag, 22 Desember en ons lees een van Neels Jackson se gedigte as refleksie tot die seisoen waarbinne ons beweeg.

 Verwagting

daar is iets wat stilweg gebeur

soos die hemel wat aan die oostekant verkleur

dit kom saggies dit is moeilik om te sien

maar dis daar dit is meer as net miskien

dis in elke landstreek elke dorp en elke straat

dis in elke blom en elke vrug en elke saad

dit kom soos ’n rustelose brander

wat jou omkeer en wat alles kom verander

jy hoor dit in baie ou verhale

wat vertel word in alle lande alle tale

dit kom vir die siekes en beseerdes

die verwerptes veragtes en verkeerdes

dit maak nuut dit maak beter dit maak heel

en so mooi as wat jy jou maar kan verbeel

dit waai oor die berge soos die wind

en dis onkeerbaar soos die geboorte van ’n kind

 

Neels Jackson